My China: uittreksel
Een
Hy moet iets skryf. Sommer gou. Miskien ’n kinderverhaal. Die Millennium van die Mikrobe. Dis wat vir ons voorlê. Ons het gehad die millennium van Machiavelli. Machiavelli die Mens. Nou, met nog net ’n paar voor die jaar 2000, is dit Machiavelli die Mikrobe, in miljoene der triljoene der spikkeljoene gekloon.
Maar wie was Machiavelli? Die een of ander beroemde chef? Hy kou aan sy pen. Hy weet wie dit is. Om presies te wees: hy weet hy weet wie dit was, maar hy kan nie onthou nie. Miskien kan hy hom ’n ander naam gee. Macaroni. Kinders sal dink dis snaaks.
Dit pla hom, maar ook net ’n bietjie: Hy voel soos ’n kind, hy dink soos ’n kind, hy praat dikwels soos ’n kind. Maar die dinge waarmee hy hom besig hou is dié van ’n volwassene.
’n Mens kan selfs sê dit was die Millennium van Macaroni. Marco Polo het pasta van China af gebring, en Columbus het dit van Italië na Amerika gebring. Die Yanks bedryf die imperialisme van Coke en pasta, nou eet almal macaroni en kaas. In die eeu van Marconi. Wie was dit nou weer?
What’s the difs? Party mikrobes sal hulself Machiavelli noem, en ander Macaroni. Die punt is, soos Marconi se radiostrale sal hulle oral wees, golf op golf van hulle, langes, dunnes, kortes, dikkes, in al die vorms in die delicatessen en nog honderde meer.
Iets sê vir hom dit sal nie werk nie, so ’n kinderverhaal. Die saak is te ernstig.
Hy kyk by die venster uit. Dis al weer herfs. Die reën ritsel sag in die blare. In die rigting van die agterdeur kan hy die water hoor plas, morsig, waar die geut ’n paar dae tevore gebreek het – nou klink dit soos vinnige klappe teen ’n gesig.
Hy tuur in alle rigtings om ’n blaar te sien val, maar sien net die flenters in die paadjie lê. Hy gaan hulle nie opvee nie, sodat hulle ’n dik mat kan vorm wat dalk effense beskerming bied teen die mikrobes in die grond.
Hoewel hy weet: selfs met sy dik rubbertrappers aan sal dit nie genoeg wees nie. Want die mikrobes is in sy eie liggaam. Sy eie maag is ’n hele kolonie van hulle, ’n supermoondheid. Hulle verteenwoordig die boosheid nie van kolonialisme nie, nee, hulle is lankal daarby verby in imperialisme in, imperialisme wat hele kontinente in sy liggaam geannekseer het en hulle ontgin in hul eie selfbelang.
Sodat daar geen uitkomkans is nie.
Dit was herfs toe hy besluit het om selfmoord te pleeg. Maar daar was nie ’n tydjie waarin hy dit kon inpas nie. Daar’s te veel dinge wat hom besig hou. Maar ’n besluit is ’n besluit, en dit weet hy: dit was ’n besluit wat hy in ’n tyd van groot... erns en belangrikheid geneem het, en nou knaag dit aan hom, volg dit hom soos ’n skaduwee, DIE GROOT BESLUIT WAT HY NOG NIE UITGEVOER HET NIE.
As hy net kan onthou. Wat presies hy beplan het, hoe, wat en waar...
Nie dat hy alles vergeet het nie. Dis sy groot probleem: soms kom die herinneringe in groot stukke detail, soos ’n lap wat jy iewers opdiep met die muise se gate groot genoeg dat jy die patroon verloor, maar met nog genoeg materiaal oor sodat jy dit kan gaan sit en uitwerk.
Of soos die peerboom. Wat daardie jaar nie vrugte gedra het nie. Of dit het wel, maar min, en die vrugte is nie afgegooi soos gewoonlik om op die grond te lê en vrotword nie. Bang vir mikrobes. Die blare het ook minder gelyk, en oral breuke in die stellasies takke onthul, en hy moes die tuinier aansê om van hulle af te saag voor iets op iemand se kop val.
As hy nou uitkyk by die venster weet hy die boom kan in die toekoms dalk vrugte dra, of dalk nie. En soos sy geheue, bloei die peerboom ook net vir ’n kort rukkie. Met soveel oordaad dat mense in die straat stilstaan om daarna te kyk. Dit stem hom onrustig.
Hulle pluk ook nooit enige vrugte nie. Selfs nie sy buurman nie, oor wie se agtermuur die takke hang nie. Hy wag die hele winter lank en die lente deur en wanneer daar wel vrugte die jaar is, beteken dit niks vir niemand nie. The story of my life.
Watter lewe?
Hy dink partykeer sy buurman kan ’n bietjie rigting gee. Elke middag om tien voor vyf verskyn hy in sy tuin agter ’n sirkel sproeiende water uit sy tuinslang wat hy voor hom hou soos ’n deursigtige Chinese sambreel, omgedop deur die wind.
Hy het altyd ’n swart kortbroek en groen army-plakkies aan. Hy maak of hy dit nie geniet as die druppels saamvloei op sy bene, wat lyk of hulle glad geskeer is spesiaal daarvoor. Die water loop in dun stroompies tussen sy tone deur, maar selfs wanneer sy plakkies los suig-klap onder sy voete, laat blyk hy niks van enige genot nie.
Hy hou daarvan om na sy buurman te kyk as hy die tuin natlei. Oor die rustigheid wat uit sy houding straal? Omdat die sakkende son blink in die sproei, met die skimp van ’n reënboog wanneer hy elders heen mik? Die reuk van gesuiwerde plante?
Dis oor die aura van kontrole. Die afgemete bewegings, op die sekonde akkuraat, met optimum toepaslikheid vir elke plant, elke blaar kan jy maar sê, volgens elkeen se behoeftes en verantwoordelikhede. Soos ’n masjien, natuurlik, sy buurman is soos ’n Kreepy Krauly wat uit sy swembad klim en sonder om ’n klopslag oor te slaan die teenoorgestelde van sy onderwaterse bedrywighede uitvoer – nie blare opsuig tot ’n pappery van oortolligheid nie, maar die verskaffing van ’n lewegewende krag sodat die plante hulself doelgerig en simmetries kan uitleef.
Dis wanneer hy die verste van probleme soos selfmoordbesluite voel. Hy weet hy gaan hom nog op die wysheid van sy buurman beroep, as hy net kan dink aan iets om hom te vra. Maar hy weet ook die buurman het ’n bietjie meer kleur in sy lewe nodig, want in die lewe is alles nie net groen nie, met net ’n blerts grond se bruin hier en daar om dit op te breek. Die lewe is nie soos die army nie.
Trouens. Al die geskryf en getob laat hom verlang na ’n bietjie geel en pers, en hy klim in sy swart Mercedes-Benz en ry na die park. Hy kyk na die rye blomme in die stalletjie op die hoek, maar voor hy kan besluit watter om te koop, slaan die lig oor na groen.
By die Chinese eetplek swaai hy impulsief voor die verkeer in om ’n oop parkeerplek te kry. Hy sluit sy motor en leun teen die deur. Minstens twee, drie keer per dag gebeur dit: Hy kan ’n herinnering voel aankom, en so nou en dan bloei dit op, maar meestal staan hy amper asemloos vir tien vyftien minute lank sonder dat iets gebeur.
Vandag is dit weer so: Nadat hy lank intensief na die drakebeelde voor die restaurant gestaar het, die dieprooi van bloed en die ougoud van... vergane ryke, stap hy die plakkaatwinkel binne.
Hy blaai deur die plakkate en kom af op ’n groot een van ’n naakte vrou in breë kwashale geverf. Moet ’n Modigliani wees, en die teks onderaan waarvoor hy sy kop moet skeefdraai, bevestig dit. Die verf is te dik aangewend vir hom, dié keer. Dit laat hom dink aan ’n sekere styl van pleistering, en hy begin te tob en sien homself met ’n troffel in sy hand. Maar dié het lankal verlore geraak in sy kelder; daar is so baie goed.
Hy kyk na links en na regs, en weer links. ’n Ent verder aan is daar ’n Kentucky Fried Chicken. Hy koop twee dye en ’n medium skyfies. Geen skyfiesverkoper verkoop ooit ’n klein skyfies nie.
Terug by die huis pak hy die skyfies in ’n bord, sodat die sout wat hy daaroor strooi nie op die hoender sal beland nie. Hy tuur na die rooi van die pakkie, rooi soos die rooi van rooi, en haal dit uitmekaar. Kentucky pak altyd die pakkies op ’n sekere manier inmekaar, in ’n aantreklike chevron-patroon, wat dalk die einde van ’n treinspoor in ’n woud aandui.
Treinspoor in ’n woud...
Miskien moet hy ’n klomp pakkies koop sodat hy ’n groot genoeg chevron kan bou om iets los te maak. Dit sal beteken dat hy nooit weer die skyfiebraaier met sy mooi mandjie sal gebruik nie, maar daar is reeds soveel kombuistoebehore wat in die kelder staan en stof opgaar, nog een sal nie ’n verskil maak nie...
Hy kan enige tyd gaan sit en dink, en kernwoorde neerskryf, maar sodra hy dit begin formuleer, is daar iets wat hom keer, sy aandag weglei, na ’n kol niks, iets alledaags, wat vir hom sein, híér is die betekenis wat jy soek. Soms sien hy homself op ’n randsteen sit en ’n werker in ’n wit oorpak kom verby en verf ’n syfer op ’n geel agtergrond op een van die stene en sê: “Dis daar vir jou, jy moet net die formule crack.”
As die woorde wel begin vorm, die dele van ’n prentjie, pak die spanning hom. Sy keel trek toe, sy sinusse vreet in sy kopbeen, sy linkerpols pyn, sy maag word seer, en gou moet hy na die toilet hardloop, waar hy met ’n sug van verligting ’n tydskrif van die vloer kan optel en vir tien minute kan ontsnap.
Maar wat maak jy as jy een oopslaan op enige plek, Time in hierdie geval, en daar is ’n artikel oor mikrobes? Van hoe hulle kommunikeer, genugtig, met chemiese seine. Dis hulle wat inkvisse laat gloei, en hulle doen dit wanneer hulle ’n sein ontvang wat deur hul gasheer aan die gang gesit word. Soos ’n oproep na ’n nagparade met flitsligte.
Mikrobes wat saamwerk met monsters uit die dieptes van die see, wat met mekaar praat en letterlik sameswerings voer wanneer hulle te min raak, en ’n sekere proteine nie meer afgeskei word deur hul makkers nie.
Wat ook help is al die gadgets in die huis. ’n Elektriese blikoopmaker teen die muur, ’n pirouette maak die blik in die kombuis se happy hour. ’n Versapper en verskillendes soorte roosters. ’n Vergiettes en verskillende soorte pastalepels. Skottelgoedwasser. Neutekrakers. ’n Antwoordmasjien.
Mense bel die hele tyd die verkeerde nommer na hom toe, los net ’n klomp klikgeluide. Toe hy eendag ’n gegiggel ook hoor, begin daar ’n lig vir hom opgaan: dis oor die boodskap wat hy opgeneem het. Hulle bel net om dit te kan hoor.
“Wie soek sal vind,” sê sy stem.
Naderhand het hy ’n band vol ingehoude asems en ’n geblasery soos ’n dier wat in die muur woon waar die telefoon aangeklamp is in sy eie luisterhouding. Amper in hul eie stemtone. Hy het begin eksperimenteer met verskillende boodskappe:
“Get ready for the waiting game.”
“Die losprys is R10 000 in ongenommerde banknote.”
“My antwoordmasjien is blind en my hond is doof.”
“Na vier sekondes skakel hierdie masjien outomaties af. Moet dus nie hakkel nie.”
Hy het sy ander bande teruggespeel, oor en oor, maar daar was niks verder nie, net die besef dat die labirint van lyne wat oor die hele land strek, ’n lewendige, asemhalende wese is.
Waarvoor het hy gesoek? ’n Ander stem as syne. Een wat kan pas by die drome waarmee hy snags moet worstel, wat hom soms moeg en bedruk laat voel wanneer hy wakker word soggens.
Die een wat hy die meeste kry, is van ’n boom met gladde takke en ’n mik met ’n spleet; dit lyk soos ’n naakte vrou wat op haar kop staan en gimnastiek doen. Hy staar fronsend na ’n kwasterigheid in die middel wanneer daar skielik ’n regte vrou in die mik leun. Hy knoop haar bloes oop en druk haar borste teen mekaar terwyl sy duime haar tepels in die rondte draai. Sy kreun van plesier en lek haar tong langsaam oor haar lippe en hy steek sy eie tong in die gleuf tussen haar borste. Haar hare ruik na klapper.
Sy gryp na die takke bokant haar en knoop haar bene om sy middellyf. Die spiere bult in haar arms, soepel en polsend soos ’n meerkat se lyf onder sy vel. Hy trek haar rok verder op, en trek haar broekie af tot die boonste hare van haar pubis wys.
Dan kan hy dit nie verder hou nie. Hy moet opkyk om te sien wie sy is, maar net haar vagina is sigbaar, glinsterend in die skemerdonker van die woud. Maar glinster vaginas wel so? Nie dié wat hy kan onthou nie. Daar is ook geen reuk van vrou nie, net van humus, heerlike vars humus, en dis die reuk meer as enigiets anders wat hom ’n ereksie gee.
Dan verdwyn die herinnering heeltemal, en die droom skakel homself af. Klik. Die volgende oggend onthou hy dat hy besluit het om selfmoord te pleeg. Dit voel of die vrou klarigheid sal bring oor wat gebeur het. Maar het iets gebeur? Hoekom kan hy dan nie ’n gesig plaas daarop nie?
Dit dryf hom teen die mure uit.
Hy besluit hy sal sy besluit uitvoer, net om te kyk wat gebeur, maar dat hy iets behoorliks sal maak daarvan, sodat dit nie sonder betekenis sal wees nie.
Hy moet dit bekend maak, in die openbaar. Hoe? Miskien moet hy ’n klomp mense bymekaar kry en dit aankondig. ’n Kennisgewing teen die hek dalk? Ek, Egbertus Gideon Jansen maak hiermee bekend dat terminasie van my lewe sal plaasvind op so en so. Besware moet geliewe voor of op so-en-so ingehandig word by briewebus hierby, met adres, telefoonnommer en ID-nommer onderaan.
Nee, dis te onpersoonlik. En sê nou maar die wind waai dit weg? Hy moet dit voor ’n klomp mense doen, soos op ’n markplein. Dan kan mense dit bespreek soveel as wat hulle wil, en selfs ’n debat hou oor sy redes. Maar wie gaan tyd afstaan vir so iets? En waar gaan hy ’n markplein kry?
Hy sal hulle moet bymekaar kry onder valse voorwendsels. Maar hoe kry jy ’n klomp mense bymekaar vir enigiets? Belowe hulle net wyn en hoenderboudjies. Nie baie oorspronklik nie.
Die idee skiet hom te binne: Hy sal ’n tafeltennispaartie reël. Sy garage is groot genoeg daarvoor. Ten bate van mekaar beter leer ken in hierdie tye van voortgesette apartheid en isolasie in die koue strale van die TV en demoraliserende boodskappe op antwoordmasjiene.