Museumdorp - Simonstad
In hierdie dorpie omring met sy blou
bergreekse soos ou gekreukelde sirkustente
agtergelaat deur bankrot sirkusbase
en die wolke se gerimpelde pienk poeierwange
wat sweet onder die stywe engelse maskers
van dainty geboutjies en witgeverfde mure
en witgeringde klipstraatjies en praatjies
van eenuur se steak-en-sampioensous
en teen vyfuur vlieg ’n paar wit-en-grys
duiwe van die parapet van ’n geelgeverfde moskee
om te bid en buig voor die son
op die geplaveide boulevard
skugter en skrikkerig vir die meeue
met hulle stywe wydsbeen offisierstappies
en hulle oë goue knope gulsig
vir ’n stukkie rooi of geel rang in die mond
en die suidooster kom pla ook plesierig
en waai die blaasorkes van die vloot
se blesse onder hulle pette oop
soos blinkgepoleerde koperinstrumente
by die stasie toe onder die mis
laai ’n stoomtrein weer spookperde
uit ’n trok en die palms krul en draai
hulle militêre snorre blink voor ’n krygsmuseum
want nou heuwelstraatjies word afgekordon
vir die ampsmotor van die president
dalk te breed vir tweerigting-verkeer
na hierdie dorpie stroom die blasé toeriste
soos die lawaaierige swaels wat op
die monumente kom sit
en dit luidkeels bespreek of besoek
die skepe met die nuutste radartegnologie
wat tog nou en dan speels swiep
oor bruin vissermanne
wat met ’n permit soos nuwe aas
aan die hoek moet visvang
en kanonskote van branders wat skiet
uit skyn-maneuvers van ’n paranormale verlede
die toeriste wat loop verby die perfekte miniatuurdorpies
sonder ghettos en tronke en sielsieke inrigtings
die afwesiges en ongeërgdes
die blindes wie se oë weer oopgemaak word
deur die “wonderwerk” van ’n blinde pikkewyn
wat ander pikkewyne voer en lei en versorg
hierdie dorpie is ’n blinde kurator
wat sy insigte verloor het
en nou sit met ’n kop soos ’n museum
vol stukkies uitgespoelde porselein
briewe uit ’n ou oorloggeskiedenis
en seldsame skulpe wat steeds ’n stom oseaan
van staatsgeheime raas
en hoepelrokke se hol ruimtes van walvisbeen
soos hutte waarin bruin
blouoogkinders eens versteek is
al die ou geheime
waaraan hy struktuur moet gee
en navors en weer sy eie moet maak