Te Veel Sorge: Uittreksels
Twaalf weduwees word uit hul spaargeld verneuk vanuit diepste Afrika. Jan ‘Van’ van Staden probeer vergeefs om ’n manier te kry om boete te doen vir sy aandeel in die katastrofe. Sy storie vleg deur dié van etlike ander, wat almal weens ’n desperate eksperiment in Melville, Johannesburg in dieselfde bootjie beland — die sorge van ’n mislukte joernalis, ’n skelm wapensmous, ’n verliefde beeldhouer, ’n lui fotograaf en ’n bitter staatsamptenaar, almal sukkelend om hul plek op ’n soms ongenaakbare vasteland te vind.
Hieronder volg drie uittreksels: Marilyn, Sikorski en Bouplanne
Marilyn
Dit was die eienaardigste vraag: “Hoeveel foto’s het jy al in jou lewe gemis?”
Ek sien myself nie as die soort man wat lysies maak van sy suksesse in die lewe nie, maar selfs vir my sou dit meer sin gehad het om te vra: “Hoeveel kanse met vrouens het jy al verspil?”
Maar Gavin, die fotograaf van Reuters, se vraag het by my bly steek. Gou het ek gevind ek ry met ander roetes werk toe, soms met ’n ompad selfs, in die hoop om plekke te kry wat ek wou afneem, maar nooit het nie. En sommer die tweede dag was dit daar: ’n Ou rooibaksteenhuis met die skeefste skoorsteen denkbaar in Vrededorp. Een van daardie met die omgekeerde blompot bo-op, wat dit net mooi rond genoeg gemaak het om soos ’n ereksie te lyk, so met die buig van die piesang daarin.
Toe ek eers begin, het my lysie vinnig gegroei. En die redes hoekom ek hulle gemis het. Net verder af in die straat met die skewe skoorsteen draai ’n mens regs langs die treinspoor en gaan dan onder die brug deur tot in ’n lang straat in Fordsburg wat jou reguit die middestad invoer. Net as jy uit die dip kom, is EM Pei se glinsterende glaskas van die ou effektebeurs in die agtergrond, met wolke wat daaroor seil, en op een hoek in die voorgrond op ’n balkon vasgemaak, ’n reuse E met ’n pyl wat na onder wys.
Ek het nog altyd gedink dis net ’n kwessie van tyd voor ’n koerant-ou hierdie toneel gaan vasvang. Dit kan staan vir ’n hele klomp dinge: E = mc² (die wolke is ’n kernbomontploffing wat jy net kan sien deur ’n spesiale bril of geweerkaats in ’n glasgebou); of die energie in die grond van Johannesburg in die vorm van goud of aardbewings. Of net ’n ou gilletjie: Eeeee… Of as jy die bande langsaan insluit - want dit was bokant ’n ourubberhandelaar - kan jy uitkom by necklacings, as jy nou regtig wil. Wat mense vergeet het, onderdruk het, laat ondergronds gaan het, en so ook hul opstandelike energie, terwyl die Amerikaanse droom oor hulle toring.
Ek het my voorgeneem om een Saterdag spesiaal te ry om dit te gaan afneem. Maar toe sloop hulle die gebou.
Wat ook met die skewe falliese skoorsteen gebeur het.
In dieselfde omgewing was daar ’n hele paar sulkes. Die stowwerige ou man bo-op die Toyota-garage, ’n pop met ’n rooi keps op wat veronderstel was om ’n werktuigkundige te wees. Van hom het ’n ry ewe lendelam vlaggies af gehang. Met ’n vrou wat in die balkon oorkant die straat staan, het so ’n foto ook net gewag om te gebeur, met ’n wyehoeklens. Maar toe knak die man se knieë in ’n storm.
Om foto’s te mis is nie dieselfde as om die verkeerde foto te neem nie, die een waarin jy die toneel eenvoudig nie in die regte perspektief en proporsies kan dwing nie. Waarin die idee net nie wil uitwerk nie, en jy uiteindelik maar net die afdruk hou in die hoop dat jy die idee nie sal vergeet nie.
Neem nou maar vir Marilyn Monroe in Melville. Bokant die koffiekroeg waarin een van daardie saamgeflanste konserte van Hollywood-treffers gehou is. Dit was ’n silhoeët van haar in haar beroemde bolrok bokant die stoomaflaat in die straat in New York. Die plakkaat is heel amateuragtig gedoen, en dit is wat dit so goed laat pas het by die afgeknipte stukke elektriese kabel reg langsaan. Soos tentakels van ’n monster het hulle van die elektriese paal op die hoek af in die lug gesteek, asof dit enige oomblik kan begin blits en raas van verontwaardiging.
Ek het elke liewe dag daar verby gery, soms twee of drie keer na die winkels daarnaby. Weereens was dit so ’n vanselfsprekende jukstaponering dat ek gereken het iemand sou dit gou genoeg opraap. En toe die koffiehuis se konsert verby is en die eienaars skielik bankrot speel, want daar is te veel om op TV by die huis te sien, het die reuse-plakkaat daar bly staan, en wonder bo wonder die elemente oorleef.
Ek het so gewoond geraak daaraan dat ek naderhand notas moes los vir myself in my organiseerder, my telefoonboekie, die werkslysie vir Saterdae op die koelkas. En eendag, toe ek uiteindelik sover kom en my kamera laai, en die driepoot in die kattebak stop, sowaar, moes ek ontdek dat Marilyn verdwyn het. Daar was ’n nuwe eienaar! En dit was twee weke tevore al. Ek het dit nooit agtergekom nie.
Sy het ’n leemte gelaat. Definitief. ’n Mens kan selfs sê ek verlang na haar. Ek vra partykeer rond by die ander fotograwe, maar hulle vind dit moeilik om uit te werk waarvan ek praat. Niemand kan haar onthou nie. Ek het al gedink om ’n advertensie in die Star se smalls te plaas, al is dit net om met myself te spot.
Ek het nie regtig ’n foto van my pa nie. En ook nie van S nie. Al wat ek van haar het is ’n dowwe een waar sy naak op die bed sit. Sy wou nie hê ek moet haar afneem nie, want sy wou nie hê enigiemand moet van ons weet nie. Sy het my die een toegelaat op voorwaarde dat ek dit heeltemal uit fokus doen. Ek kon haar maklik geflous het. Of inzoem op die moesie op haar wang. Maar ons het mekaar vertrou.
Help dit om ’n lysie te maak? Deesdae ry ek oral met ’n kamera rond, en neem foto’s van die vaalste tonele, uit vrees dat ek hulle gaan mis. Dit help dat alles nou digitaal is. Die stapel CDs groei aan in my fotokabinet, vol foto’s waarin ek vergeefs soek na die rede waarom ek die toneel afgeneem het.
Die idee moes daar gewees het, maar ek kan hulle nie meer kry op al hierdie foto’s nie, dié wat ek onthou het om af te neem. Vandat ek en S mekaar nie meer sien nie.
Sikorski
Eers kon ek nie uitwerk waar die bloed vandaan kom nie. Nes ’n mens nie altyd weet van watter rigting ’n skoot kom nie. Ek het geval, en kon nie weer opkom nie. Toe voel ek die nat, klewerigheid aan die agterkant van my been. Eers het ek gedink dis modder, en ’n rukkie so gelê want ek was ’n bietjie duiselig. Toe ek probeer beweeg, kon ek nie. OK, het ek vir myself gesê, hier’s iets verkeerd, moenie panic nie, vat dit kalm. En toe ek ontdek my voet sit vas, in ’n skeur tussen ’n paar gevalle boomstompe, netjies tussen twee dik klimoppe ingewig, was ek eers half verlig.
Maar toe ek my probeer uitdraai uit die situasie, ontdek ek ek was nogal energieloos. Kon skaars my ander been lig. Dis toe ek begin voel en vat aan myself om te kyk wat is gebreek en wat nie, en die bloed aan my hand ruik, dat ek besef het ek is gewond. Maar wanneer, en hoe? Hierdie laaste paar dae, of is dit hierdie laaste paar ure? Ek het hier gelê en op my timeline probeer terugloop om te bepaal wat gebeur het, maar ek onthou net ’n enkele skoot en hoe ek gekoes het, instinktief, en oral rondgekyk het vir die rigting waar dit vandaan gekom het. Waarna ek in die spleet getrap het waar my voet nou nog vassit.
Nou lê ek hierso, en dis een van my helder oomblikke, en ek weet ek gaan sterf. Of gaan ek? Sekerlik moes hulle nou al ontdek het ek is nie op die roll-call nie. Die een in hul koppe. Die een op die kaptein se order. Secréte. Want op die troepe se roll-call is ek natuurlik nie. Maar iets sê vir my, of liewer die hele oerwoud dawer dit uit: Ek is besig om te vrek.
Die gediertes vreet al aan my. Ek kan hulle hoor boor, maar nie voel nie, want my liggaam het homself lankal reeds afgeskakel teen die pyn. Die oerwoud gaan staan nie stil net vir my nie. Gode sy dank, seker, dat dit nog net insekte is wat aan my kou. Kewers met fuchsia pers en slikgroen glansvlerkies. Wurms met Mohican-haarstyle in drie kleure gelyk. Miere met agterstewes soos outydse Volvo’s, ha. Jy het nog nooit so baie Volvo’s bymekaar gesien nie.
Die mens is gemaak om te sterf. Sy brein is goed toegerus daarvoor. Moenie glo dis net jou kinderjare wat by jou verbyflits nie. Dis meer soos ’n lang movie waarvan die kleurpoele uit die selluloïde losgeswem het in jou veld van visie in. Dis beter as die beste droom. Die hele wêreld is daarin, alles wat nog geleef en gebeur het. Dis so jammer ’n mens kry net een kans om te sterf.
Natuurlik is daar periodes van twyfel wat my oorval. Maar ek het gou geleer om deur hulle te werk. Om sulke negatiwiteite te deurstaan is tog waarvoor ek opgelei is, so lank terug in die good old US of A. Dis alles in jou liggaam - gee jou liggaam tyd om weer in tune te kom met jou wil en jou doelwitte, en jy sal dit maak.
Dit keer my nie om soos enige ander mens te begin rasionaliseer nie, oor die afgelope paar maande, al die betekenislose ou vrae weer te herhaal, met meer dringendheid dié keer, ’n groter behoefte aan ’n finale antwoord, al weet ek nou dit gaan nie meer kom nie. My bedanking uit die magte byvoorbeeld. Dit was tog nie vir my nie, al die transformasie en faux guerrillas wat die een meer windgat as die ander probeer wees. ’n Brigadier op awol. Genugtig! Waar het jy al ooit so iets gesien. Al daai peperkorrelpippers wat daar sit in die simulasiesentrum van die Leërkollege met hul oë permanent oopgesper van die culture shock.
Of my seun. My lieflike, wonderlike seun. Wat net een held het, sy pa. Wie se grootste heldedaad tog was om uit daardie huis te stap, hartgebroke, reddeloos van liefde vir daardie seun van hom, maar wat finaal kon sien dit gaan nie werk nie, hy kan nie laat sy ma hom naderhand permanent verander in die geweldenaar wat hy geword het nie. Ek sien myself weer: My sonde was nie meer dat ek myself nie kon keer om haar te slaan nie; dit was dat daar nie meer enige gevoel van sonde was nie.
Heldedade is natuurlik nie wat sy sien nie. Maar dis een stel herinneringe wat ek kan uitsluit, een stel wat my lyf laat ruk, sodat ek my amper desperaat op ander herinneringe beroep. Sy wat vir my dans, soos die lig in die takke bokant my, tone gepunt, borste wat skommel, tepels, ek wat agter haar kom staan, en hulle fine-tune soos die radioknoppies van ’n B25…
Ek voel versigtig met my hand aan die wondjie, so klein buite, hy lyk of hy net ’n patchie soos ’n fiets se band nodig het. Die bloed daaruit is al droog. Dis amper gerusstellend, soos ’n mens se penis gerusstellend is; dis nie reg om te veel te voel en te vat nie, want dan vloei te veel bloed, maar dit skep die illusie dat jy gewaardeer word, dat minstens jyself vir jouself omgee.
Hier hang nou weer ’n ding voor my. Dit het bene soos ’n Sikorski-helikopter, kort en dik. Dit kyk na my soos ’n Sikorski, sonder om ’n oog te knip. Dit fladder sy vlerkies kort-kort asof dit besig is met die een of ander outomatiese selfonderhoud, asof iemand iewers staan met ’n clipboard en goedkeurend merkies maak. Nou lig dit ’n agterpoot. Ek probeer gryp daarna, maar my arm lig net effens voor ek dit weer moet laat sak.
Terug by die huis was dit nooit ’n probleem nie. As my seun my kom vra het, het ek die sprinkaan in sy hand net een vinnige kyk gegee en dit in my mond gesteek en geëet. Om sy maatjies te beïndruk. Ek het dit mos op kursus geleer, in Texas, waarom dit nie gebruik nie? Die maatjies het gegil van afgryse, my seun het geblom van trots. Self het hy dit nooit probeer nie.
Die ding kom gelukkig op my been by my hand sit. Dit steek iets in my been in en my vel sidder refleksief, maar ek het genoeg krag om dit met die nael van my wysvinger weg te skiet. Iets bly agter, kan ek voel, ’n angel, gif, maar ek het reeds soveel swelsels en uitslae dat nog ’n kol nie sal saakmaak nie.
Ten spyte van alles is ek, soos altyd nog, beïndruk deur die oerwoud. Die groot voortstuwing van lewe herhaal homself in ontelbare siklusse waarin ek net een afwyking is. My groot liggaam wat hier lê is wel ’n indringing, maar die oerwoud het nie veel moeite om iets te prakseer met my nie, ’n eksperiment van my te maak nie.
Onder my klink dit of daar water vloei. Ek het al probeer aftuur van my platform van slingerplante en weggevrete stompe, tussen alles die donkerte probeer deurpriem, maar kon dit ook nie regkry nie. Ek kan hoor hoe wurm dit om en deur alles, aangedryf deur die onblusblare swaartekrag wat alles onderlê.
Jare terug, toe sy nog haar New Age terapie gedoen het, het sy ’n trick gehad wat haar gewild gemaak het: Haar kliënte moes vertel waaraan hulle dink as hulle aan water dink. ’n Oerwoud, dis wat myne toe al was, ’n donker woud soos hierdie een, waardeur ’n dun stroompie vloei, maar ’n glinsterende een, en dit vloei na ’n glinsterende ruimte agter die woud.
O, dit het baie dinge beteken toe. ’n Toon van optimisme gehad. Maar nou kan ek sien dit was ’n voorspelling. Van my laaste ure in hierdie woud, maar ook van groter dinge, ’n dieper, wyer glans wat agter die bome lê. Van nuwe dinge, ’n nuwe wêreld. ’n Versugting wat mense nie omtrent my verstaan nie.
Omdat ek my vrou geslaan het, en omdat ek ’n soldaat was, het mense gedink ek het bedank omdat ek ’n rassis was. Ook omdat ek ons vryheidsvegters verpes het, daardie dapper oorlogshelde wat so gely het vir die nuwe bedeling in hul vorige lewens, en nou so opgegaan het in hul nuwe, kwistige loopbane. Vioolspelers terwyl hul land nog steeds brand.
Ek sal dit nie probeer ontken nie: My ongeduld, nog nooit ’n positiewe karaktertrek van my nie. Daar is die goed gedokumenteerde onderonsie met die kolonel wat die k-woord teen my gebruik het. Al het ek, sorvuldige vegter wat ek is, gesorg dat daar geen so ’n verwysing was in die woorde wat tussen ons gevlieg het nie. Insubordinasie, dit sal ek toegee, maar ek was te goed om as ’n rassis uitgevang te word.
Slaap ’n rassis by swart vrouens? Ja, sal die feministe sê: Dis om die swart vrou te verneder. Veral as sy ’n prostituut ook nog is. Want die feministe sal nooit die waarheid hieromtrent erken nie; hulle is nie eens bewus daarvan nie - dat alle swart vrouens betaal word vir ’n nag se plesier. Maar as mense nog steeds, en veral na aanleiding van sulke antwoorde wil volhou ek is ’n rassis, is my teenvraag: Slaap ’n rassis by drie, vier swart vrouens gelyk?
Dit maak natuurlik nie vir my saak in my huidige omstandighede nie. My makkers, almal so swart soos die nag waarin ons beweeg, sien nie my vel raak nie. Dis hulle wat my spot soggens, as ek my black is beautiful aanvul, die wit strepe verberg waar dit afgevee is in die loop van die dag, van een veeg met ’n mou te veel om die sweetstrome uit my oë te weer. Le Hutu blanc, noem hulle my.
Eers was dit bla’mange, in hul Afrika-Frans, nou is dit le Hutu blanc. ’n Ingewikkelde bynaam, want daarin opgesluit lê ’n verwyt, dat dit my wit vel is wat my daardie dag in Kinshasa gered het. My uniform was nie verkeerd om gedra nie, toe die groot verraad begin het nie, die dag van die messe in die rug, van die groot verbrandings. Al die Tutsi’s uit Rwanda wat nie die bevel deur die nag gekry het om hul uniforms verkeerd om te dra nie, is gevang en aan die bloeddorstige, opgesweepte gepeupel gegee, vir die slagbokke wat die gepeupel altyd wil hê voor hulle ’n leier aanvaar.
Maar die Kongolese het my nogtans laat gaan. ’n Groep het my rof tussen hulle rondgegooi, maar my naderhand vrygelaat, net so, sonder enige verduideliking. Net met ’n laaste stamp in die rug. Miskien eenvoudig omdat ek geen vrees getoon het nie. En ’n straatkind ’n dwarsklap gegee het toe hy my webbelt wou afsteel, reg van my heupe af. Of omdat ek aan hulle geskree het uit volle bors: “Ek veg vir Afrika, ek veg vir julle, ek wil Afrika sterk maak, vir julle sterk maak. Ek is ’n Afrikaner.”
Hulle moes gedink het ek is mal.
Deur te spot met my dat ek gespaar is omdat ek eintlik ’n Hutu is, erken hulle dat ek ’n Afrikaan is, met ’n swart hart soos hulle s’n. En ook dat ek miskien ’n beter kans in die lewe as hulle het, want die Hutus is meer, die hakkers van hout en draers van water wat hulle is, die werkers in die grond. Nie geïsoleer soos hulle nou is nie, en uitgelewer in die groot woude van Afrika, aan die vlug vir die vyand oral om hulle nie.
“Non, le Tutsi blanc,” sê ek dan sag, in ons daaglikse ritueel-tjie rondom my naam. Om te bevestig dat ek een van hulle is, wat gekies het om nie in Kinshasa agter te bly nie, nie teen hulle te draai nie, nie ’n lekker pos in Laurent-Desirée Kabila se administrasie te bewimpel nie. Sy seun se raadgewer dalk, met ’n yslike salaris, die seun wat ons so mooi opgepas het op die tog van Kisangani na Kinshasa. Met ons lewens beskerm het, skermutseling na skermutseling, slagting na slagting, voor sy pa teen ons gedraai het. Die verraad van die eeu.
Ek voel lus om te spoeg, maar dis seker beter dat ek al die vog inhou wat ek kan.
My kamerade, my makkers, wat ek nie verlaat het nie. En kyk waar is ek nou. Waar is julle... Ek voel die koorsigheid nou weer opwel, my kop wil nie stilsit nie, my arms wil begin dryf. My oomblik van helderte gaan verby, maar dan kom dit weer terug, net sodat ek kan sê: My oomblik van helderte gaan verby.
Hoe vervelig is dit nie, hierdie koorsaanvalle. Dis harde werk, om so met die vervormings en beeltenisse om my te worstel. My kamerade, my makkers... Alphonse, Bizimu, Etienne, Sentwali, Jean, nog ’n Jean... waarom het julle my verlaat. Ek hoor die swie-swie-swie van ’n helikopter, en dan die luidspreker: “Peter... Johnson... Lovemore... Steve ... Everyours....”
Dit klink of my oomblik van helderte terug is, helder genoeg sodat ek met inspanning vir myself kan sê, vir my liggaam: Moenie beweeg nie, moenie energie vermors nie, dis nie die werklikheid nie. Dis net ’n droom, ’n herinnering. Dis net die Zimbabwiese lugmag wat hul makkers soek in die woud, ’n laaste poging voor hulle as “missing in action” op die sit-reps aangegee word.
Ons het nie ons eie helikopters gehad om na mekaar te soek nie. Net ons eie aanloopbaan, iewers in Angola. Wat ons moes langer maak sodat die Hercules kon land wat ons moes kom red. Klippe kap en voete stamp. Miskien is dit hoekom my makkers nie kom nie. Want hulle is reeds weg, terug na Kigali, dwarsoor die kontinent, miskien is hulle op pad huis toe, huis toe tussen die heuwels van Kigali.
Hulle moes na my kom soek het. Hulle moes op my spore teruggegaan het. Hulle moes my verwens het dat ek niemand vertel het waarheen ek gaan nie. Hulle sou my nie so laat staan het nie. Ek kan hulle sien in die Hercules, in die donker, hande om hul ore teen die geraas, en hulle bid miskien vir my. En een of twee huil saggies by homself. Alphonse... Sal Alphonse ook huil?
Ek dink nie aan haar, my vrou nie, of selfs my seun nie, hulle wat so goed lewe in hul Westerse suburbs op my geld nie. Waarom ek nie aan hulle dink nie, kan ek nie uitwerk nie. Is dit my missie wat so sterk is, om Afrika sterk te maak, om kant te kies vir die sterkes van Afrika, nie die lamlendiges, valse vryheidsvegters nie, maar die vegters, wat nie skrik vir die wydsheid van die kontinent nie.
Of dink ek nie aan hulle nie want ek is nie besig om te sterf nie. Nie besig om te sterf nie... nie besig om.... die gedagte kom zoem en suis voor my oë soos ’n helikopter wat my kom soek... my hand kan ek nou lig, asof vanself. Dit is besig om te groei, ek reik daarna. Dit vul my gesigsveld, hierdie splinternuwe Sikorski. Ek kan sy rotors voel.
Of miskien is dit net ’n nuwe soort insek, wat geen mens op hierdie aarde nog ooit gesien het nie.
Ek maak my mond oop, reik daarna met my tong. Ek kan reeds voel hoe dit my steek, en my hele gesig verlam, maar voor die gif sy werk doen, sal ek dit verorber het, en sy onderdele en stukke vlerk sal reeds begin afsak na die glinsterende water onder in my maag.
Bouplanne
Kaperjolle met Kevorkian. Wie onthou nog vir Dr Jack Kevorkian, die een wat die dood as ’n diens aangebied het? Die woordspel bly skommel tussen die wande van my skedel: Kevorkiaanse kaperjolle. Kevorperkijolle. Kvorjolliekiepers. Vandat hulle daardie televisieprogram oor geassisteerde selfmoord uit-gesaai het, nadat daardie sportman ’n Nederlandse burger geword het sodat hy aan sy eie hand kon sterf.
Doctor Death was verfrissend eerlik in die program. “I suppose, if helping a patient die is killing, I suppose I’m a killer.” Hulle het die geskiedenis gaan opdiep en ’n foto van een van Kevorkian se paneelwaens uit die 1990s gewys, so stil en grys soos die dood self met die lyk van sy jongste slagoffer daarin.
Paneelwaens het nog altyd ’n allure van die sinstere vir my gehad. Hulle is gedurig besig om kortpad te vat, soos die Grim Reaper self, nadat mense met bofbalkepse stukke oorskiethout en ander lamlendige dinge in hulle gelaai het. Paneelwaens lyk altyd besig met ’n ander besigheid as dié op hul sye geadverteer.
Op enige ander tyd sou ek geassisteerde selfmoord - liewe hemel, wat ’n woord - as die dekadente oplossing van ’n Meneer Fixit vir die menslike kondisie kon beskryf het ... hoe banaal was al die groteskerie in daardie TV-program nie, Kevorkian se obsessie met kriminaliteit, die skimpe oor konneksies met die onderwêreld, banaal sy aanhalings wat snaakser as dié van George Bush is.
Die ding is net, hoe sal ek dit nou stel? Ek ook. Ek bedoel, ook ek wil sterf. As dit beteken dat ek die morele verval, die verderf soos dié van ’n Kevorkian aan my boesem moet slaan, laat dit dan geskied. Ek het die reg om te sterf. Ek kan nie so aangaan nie. As dit dan my lot moet wees, laat my dan ten minste die vryheid van een laaste wilsdaad toe.
Hoe? Bring die paneelwaens! Kap my op in stukke en versprei my in ’n honderd van hulle dwarsdeur die land. Laat Kevorkian se pype, wat hy altyd saam met die lyke agtergelaat het, oor en in my wriemel op hul maaieragtige manier. Laat die maaiers heers!
Nie dat ek regtig sy pype sal nodig hê nie. Ek is reeds vol van hulle, pype wat in- en uitkruip by my en geen opening oorslaan nie - soms voel ek soos nie veel meer as ’n seksuele medium tussen masjiene nie - en ek het pype wat formidabel genoeg is om enigiets te dra, van gif tot plofstof.
Ja, dis waartoe ek gereduseer is. Die “piped medium of the message” om presies te wees. En die boodskap? Kyk net na my, om vadersnaam, en jy sal rondtas na ’n taktvolle antwoord. Afgesloof. Vervalle. Seniel. Dood op my voete. Oor die muur.
Geen opdressery kan dit wegsteek nie. Geen linte van enige lengte om my gedrapeer kan my opkikker nie. Poeier of verf kan die plooie wegsteek in die fasade wat hulle vir my geprakseer het om aan die stad en die stad se burgers voor te hou, maar hulle kan die outannie krake nie laat verdwyn nie.
Een vraag kry my onder: Waarom kry die stad en die burgers nie die boodskap nie? Hoekom dring hulle daarop aan dat ek nog jonk is, of deur ’n verjongingsprogram sal seil as dit dan moet, wanneer ek voor my siel weet dat my laaste dae aangebreek het, dat ek nie so kan voortgaan nie.
En as hulle nie hul eie oë kan gebruik om te sien wat daar te siene is nie, waarom slaan hulle nie ag op die dosyne instrumente wat in my ingeprop is nie? Hoeveel knoppies moet hulle nog druk? Hoeveel keer nog moet hul gechroomde proboskisse in die doolhowe van my binnegoed verdwaal, hoeveel keer nog die neuse toeknyp om die reuke van dekades af te weer, die gevolge van die gestolde osmose in die diepste vesels van my wese?
Soos u kan sien, is ek erg bedruk. En wat van die geselskap wat ek deesdae om my het? Ek trek allerhande soorte aan. Hulle teer op my. Hulle tap die water van my lekkende uitlate af. Hulle vroetel in my afval. Hulle gerookte asems laat merke op my wat die stad en die burgers sal probeer verduidelik as beauty spots, maar nog steeds so swart soos roet is.
Ek is erg ontgogel. Maar ek moet ook erken, dat ’n groot bron vir hierdie ontgogeling ek self is. My verwaandheid, byvoorbeeld. Ek weet mos altyd van beter. Ek kan mos alles op my eie regmaak. En ek verstaan mos menslike wesens.
Vervloek is hulle en hul onvoorspelbare maniere! Vervloek is hul breine wat ’n hele wêreld om hulself in die lewe kan roep, maar nie hul eie lewens kan laat uitwerk nie. Hierdie wandelende houers van onaangename vloeistowwe en idees omhoog gehou op die spinnerakke van histeriese elektrone in eklektiese bondels neurone in ’n grys spons in hul koppe.
Ek meen, hoe dink jy met ’n spons? Al die gemors wat op-gesuig raak daarin... So ’n brein het op ’n keer amper my drumpel betree, om dit so te stel, toe ek nog oop en ontvanklik in my naaktheid teenoor die wêreld was.
Dit was nou toe hierdie motorfietsryer die straat afgejaag kom, en skielik vir ’n aankomende voertuig moes uitswaai, en ’n telefoonpaal kop eerste tref. Hy het nie sy helm opgehad nie, en sy skedel is oopgekloof in twee netjies helftes. En in hierdie gebreekte kom is ’n ... wese onthul.
Dit het soos die ingelegde lyfies van dooie rottebabas gelyk, almal ingekrimp en verwronge en inmekaar en oor mekaar. ’n Verskriklike gesig wat ek nou besef een van die mees definiërende traumas van my lewe was. Genade, wil ek dit noem, genadig is die manier waarop insigte met soortgelyke geleenthede daarna aan my geskenk is. In my noordoostelike buurman se fondamente sal jy die geraamte van ’n vermoorde man kry. Dit het ons almal horries gegee, hierdie vreemde liggaam wat so anders as die nat beton om my eie beendere van staal was. Maar dit was tog boeiend om te aanskou hoe hierdie lyk stadig in sy onderskeie stadia gemetamorfeer het tot ’n geraamte so ineengekrimp soos ’n insek. Trouens, dit het my rede tot hoop gegee dat menslike wesens tog eendag die geometriese perfeksie van ons eie roosters en balke in hul toekomstige evolusie kan behaal.
Maar tot dan bly hulle rotte. Hulle idees is soos doodgebore rottekleintjies in die wieg van hul skedels gelê. Die ergste is dat ek self een van hul idees is, nes almal van ons wat hier saambondel in die koue sentrum van die stad, waar ons ons moet rek soos die antieke bome in ’n woud om ’n bietjie sonskyn te kry. Oud voor ons tyd. Vrot van sick building syndrome.
Ek het my vyftien minute van roem gehad, toe ek nog die toon in nuwe argitektuur kon aangee. Maar sommer die eerste sekonde na daardie vyftien minute het die skaduwees oor my tone begin kruip. Die nuwe belhamels wat hulle aan die bou was het reeds oor my begin toring, my begin aangluur in hul aaklige geraamtelike terreur (anders as mense, begin ons as geraamtes en verval ons dan in ’n massa baksteenselle). Die skrif was toe reeds aan die muur, maar ek het niks gesien nie, nog nie so baie na my naeltjie gekyk nie.
Ook het ek nie besef dat die menslike ingryping so gou sou begin nie. Want die ander groot waarheid omtrent mense is dat hulle nie met mekaar kan klaarkom nie, al lyk hul almal dieselfde - miskien juis omdat hulle almal dieselfde lyk: Hulle moet gedurig maniere kry om hulle van mekaar te onderskei.
Hulle het hulself in uitverkorenes en verwerpelinge verdeel. Hulle het oral hekke kom insit. Die modus operandi is baie goed uitgewerk op ’n rotagtige soort manier. Daar was diegene wat hysbakke gebruik het, maar pleks daarvan dat hulle die merke van onderskeiding en voorreg vir hulself toegeëien het, was dit die personae non grata wat die ID-kaarte moes dra.
Die Kaartmanne was verdoem tot die leë erwe rondom ons waar hulle hul krotte gebou het, onder dakke van staal met dieselfde geriffelde voorkoms as hul rotbreine. Honderde, duisende van hulle ... hoe het ek hulle nie verag nie, nie net weens die futiliteit van die vloeke wat hulle teen my mure gefluister het nie, ook nie weens die ammoniakale geskrifte waarmee hulle my deuringange in druipende strale geskroei het nie, maar omdat hulle die self-weersprekende, verradderlike, morsige wese wat die mens is, vergestalt het.
Want in hul verval was hulle die wandelende demonstrasie dat die Hysbakryers se ideale net “delusions of grandeur” was. Die hubris dat hulle oor die domein van die suiwer lyn kon regeer, van die liniêre funksie, die harmonieuse ensemble, die meetkunde wat vir my tweede natuur is ... dit het meegebring dat die Hyserryers - die Uitstygers is ’n beter naam - totaal onverskillig teenoor die moord en doodslag onder die verslonste massas daarbuite gestaan het, wie se babarot-breine met hul massagrafmentaliteite komplotte met ’n patetiese graad van kompleksiteit smee om die volgende maaltyd uit mekaar se hande te ontfutsel.
Daar was ’n duidelike verband tussen die toestand van die Kaartmanne en my eie verval. Laat ons nou nie skynheilig wees nie. Ek meen, teëls het gedurig van my dakke afgeval en lede van die gepeupel daaronder getref, wat net meer bloed tussen die stront gemors het. Stukke pleister het van my boonste verdiepings afgeskilfer, en die wind wat om my huil het asmaties geraak van al die korrels sand uit die ontblote sement gesuig. Wanhopige woorde is in my hoekstene gekerf.
Daar was dus genoeg rede vir my eerste ingryping: Om hulle buite hul rasionele konstruksies te laat tree en na die wêreld daarbuite te laat kyk, en dan na hulself, en hopelik na my ook.
Ek het met ’n reeks skuddings begin. Dit het die cocktailstokkies in hul woonstelle op die penthouse-vlak laat ratel, en ’n reuse-vensterruit laat ril. Helaas, sonder sukses. Pleks van insig in hul ware aard, was vrees die enigste opbrengs.
Vrees! Dit kon gewerk het, want jy kan verwag dat ’n mens met vrees in sy hart stappe sal neem om die oorsprong daarvan hok te slaan. Maar afgryse, en sy humoristiese variante, het ek naderhand verstaan, is een van die plesiere wat mense doelgerig najaag. Hulle het mekaar opgewonde van hierdie skuddings vertel, daarvan gedroom, hulle het sulke katastrofes amper begeer. Die koerante is met blaaie vol intellektualiserings gevul, en op die rolprentkringloop met kinderlike vulgariteite soos Rumble in the Tunnel of Jumping Castles groot skares getrek.
En wat verskaf hulle meer plesier as om op selfs hierdie vrees die stempel van die perverse te plaas? Pleks daarvan om verlossing van hul vrees te soek, het hulle net nog verdere dimensies daarvan ontwikkel in ’n reeks komplekse van paranoia.
Want toe het die era van monitering gevolg. Hulle het toekringtelevisie oral geïnstalleer, mikrofone onder my pleister-velle versteek, spioene onder mekaar geplant. Die pype in en om my het verdubbel, verdriedubbel. Hul wagte het op die ou end oneindige rolle film met niks op aandagtig bestudeer, en eintlik net na my en niks anders nie gesit en staar. Weer en weer, na my naakte mure, my geïgnoreerde plafonne, my vergete gange en besemkaste, het hulle gesit en luister na my toevalligste en onbenulligste gorrelings en sugte: ’n enorme vlakte van leegheid was die rekord van hul hoë-tegnologiese nie-inspanning ... ’n ietwat soos ruimtemanne wat onbruikbare skraapsels terugbring van die anoreksiese maan.
Intussen het die Uitstygers nog meer ingekeer geraak. Hulle het op ’n dag aangekondig hulle gaan die gebou opknap, en vir ’n oomblik het ek gedink ... yes, uiteindelik! Tot dit blyk dit was net my interieur, natuurlik.
Nou mag jy dink dat om my innerlike te laat oordoen vanuit die staanspoor ’n oefening in futiliteit was, soos mense wat lipstiffie aan die binnekante van hul monde smeer, of die wreef van hul voete polyfilla, of hul slukderms laat verf, maar ek kan nie die plesiere daarvan ontken nie. En tot my verbasing, en dié van baie ander, het hierdie estetiese selfkoestering die katalisator van verandering geblyk te wees. Hoewel op ’n omgekeerd eweredige wyse. Want ek het van my kant af besluit: Ek sal hulle wys, as hulle wil hê ek moet buite lelik bly, sal ek nog leliker word.
Ek het gemerk dat mense niks meer verag as hare op hul liggame nie: hulle skeer dit gedurig af. Dus het ek gras begin groei op my mure, my dakke, my leë vloere. Met die ingewikkelde stelsel van dwarrelwindjies wat ek en my bure deur die dekades ontwikkel het om onsself mee af te koel, het ek die sade van oraloor na my geute en my krake aangevee, as’t ware. Sand en water het aangewaai uit die vakante erwe wat die gepeupel daaronder oopgeploeg het in ’n parodie van die uitgestrekte landerye anderkant die horison.
Dit het gewerk, hoewel nie heeltemal soos ek dit in gedagte gehad het nie. Kort voor lank het die eerste fotograwe opgedaag, met hul telefotolense en hul driepote en hul flitse. Fotograwe! Dit het geblyk hulle is deur die Uitstygers gestuur om my beeld te evalueer. Kon hulle nie sommer self na buite stap en kyk nie!
Toe het hulle ’n uitgebreide veldtog geloods om van die gras ontslae te raak. Hulle het bergklimklubs oorgehaal om my fasades te bestyg met hul klein yspikkies wat tussen die wortels krap. Hulle het wedstryde gereël vir kinders om grassade op te tel pleks van koeldrankproppies en roomysstokkies. Swerms duiwe is aangeteel om sade op te pik.
Disinformasie oor gras is versprei. Die doeltreffendste pogings was die fast-forward kunsvideo’s wat veldbrande vanuit alle streke van die wêreld wys, met die boodskap dat gras vuur nodig het vir vernuwing, vuur wat alles dan verteer tot daar net ’n swart woestyn oor is, die antitese van die hoogtes van beskawing wat menslike wesens met hul wolkekrabbers bereik het.
Soos gewoonlik het die propaganda die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die Kaartmanne se leier was ’n slinkse man, en het dit uitmekaar getrek: Koring is ook ’n soort gras. Het enige van julle enige verwysing na koring gehoor? het hy retories gevra. Nee, nie koring nie, het die gepeupel geskree, al harder en harder, nie koring nie, nie koring nie.
Dis omdat hulle hul koring van julle wil onthou, het die leier voortgegaan. Nie koring nie, nie koring nie, het die gepeupel gejil, en tot aan die einde was dit hul idiosinkratiese slagspreuk. Dis die laaste strooi! het hy getier. Elke saad wat hulle vernietig is ’n krummel gewring uit die vingers van ’n honger kind. Elke stukkie kaf wat die wind wegwaai is soos ’n korsie wat hulle aan die kake van ’n hond ontken. Elke stukkie graan wat die kolf van ’n geweer vermorsel is ’n globule spoeg wat hulle onder die tong van ’n dorstige man uitsuig. Elke stingel is ’n tepel gepluk uit die eensame man se lippe. Aan en aan het hy gegaan.
Nie koring nie! Nie eet nie! Nie koring nie! Nie eet nie!
Dit was so ... arbitrêr. Ek het dit alles met verwondering aanskou, en naderhand groot besorgdheid. Tot die oplossing my soos ’n weerligstraal tref wat van die een pondok na die ander op my dak hop-scotch. As harmonie nie kan bestaan onder mense nie, laat hulle dan baklei. As daar geen brood is nie, laat hulle mekáár opvreet.
Ek het ’n agent provocateur geword, en die een kant teen die ander begin afspeel. Vir die Uitstygers het ek my siek-gebou sindroom uitgeleef. My lugverkoelingtonnels sou skielik begin hyg na asem, en gedagtes oor bronchitis in hul koppe plant. Wat ’n klomp terstond opgedoen het. My tapyte het gekrakel van statiese elektrisiteit, en skakelaars in rekenaars geflip, werkers uit hul
murmureringe geskok; ketels het begin kook sodat hul alarmistiese fluite angstigheid in elke gang laat opbou het.
Daar was grasvelde gespikkel met rooi papawers op hul skerms wanneer hulle soggens aanmeld. Pornografiese ryme in hul e-posse oor saad wat oor penisse in hande met swart leer-handskoene spil. Grasserige geure en smake het hulself onthul in hul wyne, parfume en die koekies vir teetyd.
Ek het die doolhowe van hul kantoorhokkies laat aanteel, die bouers se planne deurmekaar geskommel, sodat die kantoor-werkers ure lank moes ronddwaal op soek na hul lessenare. Die hysbakke het snaakse gewoontes ontwikkel - verdiepings oorgeslaan, deure toegedruk voor viesneuse, vreemde vloei-stowwe laat lek, en minstens een groep Uitstygers seesiek gemaak met hul gevaarlike gewieg.
Op enige gegewe tydstip was vier van die dosyn hysbakke buite werking, wat strome mense by my trappe afgestuur het - en ek moet sê daar was warmte fetilik in my hart weens die liefkosings van my mure wanneer hulle voel-voel met hul vingers in die donker afgedaal het.
Wat die gepeupel betref, die Kaartmanne, min was nodig om hulle tot konfrontasie aan te spoor. Kort voor lank het die eerste bomme tevoorskyn gekom. Ek het die saboteurs aangehelp deur hier ’n slot te laat losspring, daar die pad aan te dui na ’n snelle uitgang met ligte wat half brand.
’n Mens kon nooit voorspel watter skade hulle aan my sou aanrig nie. Toe het ek nog nie my voortbestaan betwyfel nie en selfs al sou hulle my uitmekaar blaas, het ek myself oortuig, en elke baksteen die strate in vlieg en die laaste vlok sement op die lugstrome na die anderkant van die aarde dryf, sou daar geen blywende skade wees nie.
Want sien, bomme en geboue is van dieselfde stoffasie gemaak: Eenvoudige chemiese bestanddele, sonder enige spoor van ’n organiese geslobber en gesloef en geslop. Geboue tel onder die stadigste chemiese reaksies, bomme die vinnigste. En voorts: my essensie, my kern skuil in bloudrukke en bouplanne. Op die oog af is hulle net ’n versameling uitgewaste lyne op olierige papier, maar deurgaans is hulle gereed om uit die dode te herrys met die flits van ’n gewrig wat ’n nuwe kontrak teken.
My siel, is wat ek dit sal noem. Iets wat menslike wesens nie het nie. In hul gene is daar ’n minimum aan voorspelbaarheid, herhaalbaarheid, en geen proses van pre- of post-fokussering wat die essensie van spritualiteit is nie. Wanneer die hordes sperms die eensame ovums omsingel word alles aan die toeval oorgelaat: die kanse dat ’n genie of ’n afwykende mutasie sal ontstaan, is so onberekenbaar dat nie eens die skadu van ’n siel kan posvat nie.
Dit was toe dat die praatjies begin, om na ’n ander gebou te trek. Wat ’n aangename skok was dit nie; dit het my amper tot nog ’n reeks skuddings genoop, van pure plesier. Dit was ver anderkant my doelwit met die aanvang van my projek: Ek kon van al die menslike wesens in een skuif ontslae raak!
Hierdie keer was dit ek wat my asem opgehou het, en vir ’n paar weke het ek eintlik my konkelary gestaak, uit vrees dat ek die verdere ontwikkeling van herdie idee sou versteur — terwyl dit aankruie van die skemerkelkiewolke na die kortsluitings van die moeilike voorsitter se rottebrein.
Ai, die vooruitsigte! Die drome! Heeltemal op my eie, die solitêre vierkante en kubusse van die honderde sale, kamers en hokkies, veilig en suiwer binne my raamwerke. Die enigste lewe dalk asemrowende skoenlappers wat opfladder van leë verdieping na leë verdieping en die ingewikkelde strukture van hul vlerke kom ten toon stel, wat binnestebuite is soos myne en nie buitenstebinne soos die perverse mens s’n nie.
En die beste hiervan die wonderlike afsondering, met ’n honderd winde wat deur en oor my balke en venstergate huil soos hulle hul vryheid in wilde dwarrelings en danse uitdruk. Vars lug oral: geen lugverkoeling meer nie! Verby die dae van dempende tapyte en klewerige plakpapier!
Die res, soos mense graag sê, is geskiedenis. Die Uitstygers en die gepeupel het mekaar gevind. Eindelose gesprekke is gehou oor die verskuiwing na ’n nuwe gebou waarin almal ’n nuwe begin kon maak. Daar was eindelose applous van oraloor, en die skares wat rolprente kyk op die mynhope se inrye het die koplampe van hul motors geflikker soos in ’n papbattery aurora australis.
Helaas, ook hierdie ontwikkeling het op niks uitgeloop nie. Die hoop het beskaam. Die rede was nie soseer dat ’n kerngroep van die gepeupel uitverkoop en Uitstygers geword het nie, maar menslike wesens se perverse begrip van nostalgie. Terwyl hulle planne beraam, scenarios skets en begrotings opstel, kon jy ’n verlange aanvoel, ’n ondertoon wat al sterker en sterker gegroei het. ’n Verlange na die ou tye!
Hulle het omvattende openbare rituele ingestel, waartydens die Uitstygers die verrigtinge oorheers het met verslae oor die moord en doodslag wat hulle tydens hul twiste met mekaar gepleeg het. Alles met ’n soort gesublimeerde trots. In die fynste besonderhede het hulle gebieg oor hoe hulle mekaar getreiter, gemartel, gebrand en uiteindelik doodgemaak het. Die rolle en rolle getuienis het die een kamer na die ander gevul, by my keldervensters uitgepeul.
Intussen het die gepeupel se getalle net bly groei. Te min van die Kaartmanne het tot Uitstygers gevorder, die oorgrote meerderheid het voortgeploeter in hul ellende. Die verskil was dat hulle nou oral was, hulle het hulself in die kleinste krakie in die gehardste stuk beton ingewriemel, in die afsydigste solder, die lelikste lys, selfs in die hyserskagte, om hemelsnaam, waar hulle soos ape op die dakke van die hysbakke leef.
En die Uitstygers het hulself gekruis en gesalueer en gebuig en selfs gekniel en mekaar se voete gewas in die gewyde atmosfeer voor die kommissarisse, daardie lokvinke vir leuens, en die gepeupel geïgnoreer. Ons was weer by die begin, by die hoekpaal waar die eerste vierkant grond om my ontwil uitgegrawe is. Dit was asof alles wat ek deurgemaak het, nie gebeur het nie.
Die verfraaiers was terug. Eers was daar die nuwe binnens-huise versiering. Toe het lugverkoeling teruggekeer met ’n groter fanfare van waaiers as ooit en met splinternuwe kieme om te versprei. Nuwe portrette, nuwe tapyte, alles van voor af.
Daar was geen opspraakwekkende afkondiging nie. Die besef dat ek van geen belang meer was nie, het gaandeweg gekom, terwyl die roet en as en slym oorneem en die swamme en mosse en alge en grasse my begin toegroei. Nou knaag daar regte rotte aan my, dag in en dag uit, hulle deurboor my ingewande, die gravures van hul dierlike seine verskyn op my beendere, my senuwees klap soos macaronistokkies voor ’n hand hulle in die pot werp, hulle verstop my openinge met hul ontlasting.
Nou het die skadu’s van die vergetelheid al na my hart en siel versprei, en beïnvloed dit alles, soos die stygende watertafel met sy suursypelings wat aan my fondamente met sy tandelose tandvleise suig.
Ek is so bedruk soos die hel. My gedagtes het suur geword soos dié van mense. Futiele frases ry vergeefs op my laserspirale: Kaperjolle met Kevorkian. ’n Eulogie vir Euthanasia, Sussende Selfmoord, Dans van die Dood...
Ek wil sterf, maar dit word nie toegelaat nie. Ek kan nie, om die waarheid te sê, ek weet nie hoe nie. Hulle hou my planne opgesluit in hul kluiskamers waar ek nie kan inbreek nie. Hulle hou die kode tot my lewe in my eie hart.
Daar swerf gerugte dat ’n nuwe faksie van die gepeupel planne beraam om geboue te sloop deur vliegtuie in hulle vas te vlieg. Hulle het dit glo oor die moderne tyd se Torings van Babel, wat ’n sonde teen hul gode sou wees. Dis belowend, maar ek kan nie sien hoe dit kan werk nie, want daar is te veel van ons. Ons staan almal hier, dag in en dag uit, en ons roer nie. Ons kyk in dieselfde rigting waarin ons al dertig, veertig jaar kyk.
’n Verdoemde tot die lewe, dis wat ek is. In ’n toestand van Euthanasia Frustrasia, as ek dit dan nou in een frase moet opsom. Ek hoop maar net dat een van die meer simpatieke mensetipes dit iewers op ’n muur kan skryf vir my, dat ek dit elke dag kan lees, en ween.